Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 09 SEPTEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons die afsterwe van een amateur ‘n tyd gelede, en drie gedurende die afgelope week moet aankondig:

Madelyn Greyling, ZS6LIE, dogter van Ben, ZS6BEM, is op 28 Maart 2007 na 'n ernstige moterongeluk, oorlede.

Buck Taylor, G0OYH, eks ZS1VP, is op 4 September 2007 oorlede. Buck was die afgelope tyd siek gewees.

Marthina Botha, ZS4MB, se sleutel het op Vrydag 7 September 2007 stil geword.

Frans Keulder ZS6BXL is gister, Saterdag 08 Sept. 2007 oorlede. Hy was die vader van John, ZR6JWK.

Ons betuig ons innige meegevoel aan die families en baie vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL EN DIE HMO GAAN AAN ‘N GESAMENTLIKE BAKENPROJEK SAAMWERK

ZS6PTA LOOP VER VOOR IN DIE BHF/UHF-KOMPETISIE

MAAK GEREED VIR DIE FINALE BEEN VAN DIE BHF/UHF-KOMPETISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL EN DIE HMO GAAN AAN ‘N GESAMENTLIKE BAKENPROJEK SAAMWERK

Die Suid-Afrikaanse Radioliga en die Hermanus Magnetiese Observatorium (HMO) het ooreengekom om aan ‘n gesamentlike baken- en voortplantingnavorsingsprojek te werk wat baie SARL-lede met deelname sal betrek.

Die projek is deur die SARL se President, Graham Hartlett, ZS6GJH, gedurende verlede Sondag se Presidentsnet aangekondig en dit sal bekend staan as die SARL 40 Meter Bakenprojek.

Hierdie bakendiens sal van groot waarde wees om werklike voortplantingstoestande in werklike tyd te bevestig vir navorsing en voorspelling aangaande die ionosfeer. Die Ruimtefisikagroep van die HMO sluit ‘n aktiewe ionosferiese komponent in, en voorsien ionosferiese data vir die doeleinde van ruimteweervoorspellings, wat HF-voortplantingvoorspellings insluit. Die HMO het onlangs die Streekswaarskuwingsentrum vir Afrika vir Ruimteweer geword, wat behalwe ander parameters, die voorsiening van HF-voortplantingvoorspellings insluit. Daarom sal die huidige ruimteweervoorsiener en die HMO nou saamwerk ten einde een ruimteweervoorsiener vir Afrika daar te stel.

Die HMO sal data aangaande die werklike voortplantingspaaie tussen die verskillende gebiede in die land van deelnemende amateurs en opvoedkundige inrigtings versamel. Hierdie inligting sal dan vergelyk word met die voorspellings wat vir hierdie paaie gemaak is. Op hierdie manier kan ‘n bevestigingsprosedure geïmplimenteer word en vertrouensvlakke op die voorspellings deur die ruimteweersentrum geplaas word.

Bowenal kan studenteprojekte binne die ruimtefisikagroep ontwikkel word met gebruik van inligting wat deur die bakendiens ingesamel word ten einde HF-voorspellings oor die Suid-Afrikaanse gebied te verbeter.

‘n Aantal vrywillige amateurs sal bakens by hulle stasies huisves. ‘n Gesentraliseerde databasis sal in stand gehou word wat ‘n rekord sal hê van elke baken, sy gasamateur en sy tydgleuf.

Dr Bert von Rahden, ZS6LP, sal die amateurvrywilligers ko-ordineer en die sentrale databasis in stand hou, terwyl John Williscroft, ZS6EF, die essensiële tegniese ontwerp, oorweging en die 40 m bakens sal voorsien.

Die 40 m-bakenstelsel is op die internasionale bakenprogram gemodelleer. Vrywilliger amateurstasies geleë in alle gebiede van Suid-Afrika sal voorsien word met ‘n 40 mW outomatiese baken wat binne ‘n voorgeskrewe tydgleuf sal uitsaai. Hierdie tydgleuf is vir elke sender uniek. Die uisaaitydsduur sal 55 sekondes wees.

Daar is op die 40 mW-vlak besluit na op die lug eksperimente tussen ‘n stasie in Afdeling 6, ZS6LP, en ‘n stasie in Afdeling 2, ZS2VJJ. Dit is gevind dat hierdie vlak die beste dinamiese bereik van veranderende voortplantingstoestande dek. Die 40 meter baken , wat vir ‘n kort periode in die GG-modus sal uitsaai, sal die volgende boodskap uitsaai: “ZSXXXX” en liggingsdata gevolg deur ‘n 6 sekonde instemperiode wat die afdeling aangee waarin die stasie geleë is.Die herhalingsiklus is elke 30 minute vir stadium 1, met elke baken wat om die beurt uitsaai, tot ‘n maksimum van 30 bakens. Elke baken sal intern tydgesinkroniseerd wees voordat die stasies uitgereik sal word. Daar is ook voorsiening gemaak vir stadium 2 waartydens 60 bakens in ‘n 60 minute periode sal uitsaai. Die stasies wat op die aagegewe frekwensie ontvang sal bakenseine in volgorde regoor die land ontvang. ‘n Lys van bakens en hulle uitsaaitye sal gepubliseer word, sodat stasies wat nie gehoor word nie, geïdentifiseer kan word.

Dit word verwag dat die eerste 30 bakens vroeg in Oktober aangeskakel sal word. Verdere inligting sal op www.sarl.org.za beskikbaar gestel word en ook in SARLnuus bekend gemaak word.

ZS6PTA LOOP VER VOOR IN DIE BHF/UHF-KOMPETISIE

Die Pretoria Amateurradioklub het die eerste been van die 2007 SARL se BHF/UHF-kompetisie gewen waarin hulle 841 811 punte behaal het.

Die Afdelingswenners is:
ZS2: ZS2ACP, 3 508 punte;
ZS4: ZS4BFN, 41 445 punte, Jan Botha, ZS4JAN, 3 960 punte;
ZS6: ZS6PTA, 841 811 punte, ZS6MRK 92 828 punte.

Geen logstate is uit ZS1, ZS3 en ZS5 ONTVANG NIE.

Veels geluk aan die wenners.

KOMPETISIENUUS

MAAK GEREED VIR DIE FINALE BEEN VAN DIE BHF/UHF-KOMPETISIE

Die tweede been van die BHF/UHF-kompetisie vind oor die naweek van 21 tot 23 September plaas. Dit neem ‘n aanvang om 18:00 SAST op Vrydagaand en eindig om 12:00 SAST op Sondag. Hierdie 42 uur kompetisie is in twee sessies opgedeel, die eerste een duur 24 uur en die tweede een 18 uur. Dit beteken dat dieselfde stasies in beide sessies gekontak mag word en dus die aktiwiteit sal verhoog.

Die kompetisie is so ontwerp dat dit vir elke gelisensieerde amateur moontlik is om as ‘n mobiele of as ‘n vaste stasie deel te neem of selfs in ‘n enkel- of multioperateurkategorie wat hierdie keer aanvaarbaar is.

Die volgende frekwensies mag in die BHF- en UHF-bande gebruik word:
50 tot 51,5 MHz;
70 tot 70,3 MHz;
144 tot 145,55 MHz;
432 tot 433,60 MHz;
1 296 tot 1 296,50 MHz.

Die volgende mudusse mag gebruik word:
FM, SSB, CW en DIGITALE modusse.

“Dit is ‘n kompetisie wat nuwe DX-rekords kan oplewer, maar dit verskaf ook pret en opwinding”, het Piet Badenhorst, ZS6PJB, die SARL se BHF/UHF-bestuurder gesê. “Of jy ‘n handdraagstel en ‘n Slim Jim antenna of ‘n groot antenna-opstelling en basisstasie gebruik, jy sal die kompetisie geniet”.

Die algehele wenner van die kompetisie sal die trotse eienaar van ‘n YAESU VX-2R 2 m/70 cm handdraag sendontvanger ontvang wat geskenk word deur Let’s Play Radio.

Volledige besonderhede en reëls is beskikbaar op die tuisblad van die SARL se webwerf by www.sarl.org.za.

Die Lente QRP-Sprint is vanmiddag op die lug vanaf 14:00 to 16:00 SAT. Dit is 'n foon- en GG-sprint op die 40 meterband. 'n RS- of RST-verslag en die jaar waaarin jy jou lisensie ontvang het word uitgeruil. Die reëls is beskikbaar in die 2007 SARL Kompetisieboek en is ook uitgestuur op die HF Happenings se e-poslys.

OM BY BHF- EN UHF-BANDPLANNE TE HOU IS BELANGRIK OM MAKSIMUM GEBRUIK VAN DIE SPEKTRUM TE VERSEKER

BHF- en UHF-bandplanne is ontwerp ten einde maksimum gebruik van die spektrum, wat aan amateurradio toegewys is, te verseker en steuringsvrye bedryf en uiteindelik die groot bevrediging om 'n swak of satellietsein te hoor en 'n QSO te maak, te ervaar.

Amateursatelliete het 'n baie wye voetspoor en ten einde wêreldwye steuringsvrye bedryf te verseker, is sekere segmente van die verskillende frekwensiebande hiervoor opsy gesit.

Byvoorbeeld, vir FM-kommunikasie met die internasionale ruimtestasie en ander bemande ruimtetuie is 145,200 MHz toegewys vir simpleksbedryf en 145,200/145,800 MHz vir transponeerdertipe bedryf. Moet asb. nie hierdie frekwensies vir gewone aardgebonde QSO's gebruik nie. Hierbenewens is die frekwensies 145,800 tot 146,000 MHz uitsluitlik gereserveer vir die amateursatellietdiens.

Soortgelyk is in die 70 cm-band alle frekwensies van 435,000 tot 438,000 MHz ook gereserveer vir die satellietdiens.

Bandplanne is internasionaal deur die IARU deur onderlinge ooreenkoms gekoördineer. Bandplanne is beskikbaar by www.sarl.org.za, kyk in die linkerhandse kolom vir lisensies, maak die bladsy oop en klik op bandplanne.

KLUBNUUS

Die AJV van die Bloemfontein Radioamateurklub is op Saterdag 1 September 2007 gehou en die volgende lede is verkies om op die komitee te dien:

Voorsitter: Jan Botha, ZS4JAN;
Ondervoorsitter: Martin Schwella, ZS4MS;
Sekretaris: Dennis Green, ZS4BS;
Tesourier: Angeline van der Merwe, ZU4AN;
Lid: Philip Esterhuizen, ZU4PE.

Dank aan die uittredende komiteelede en sterke aan die nuwes vir die werk wat voorlê.

PRETORIA AMATEUR RADIOKLUB SNUFFELMARK EN AJV

Die Pretoria Amateurradioklub hou hul volgende snuffelmark en AJV op 29 September 2007. Die snuffelmark sal tussen 08:00 en 11:00 plaasvind. Hul AJV sal om 12:00 begin. Beide aktiwiteite vind plaas by ZS6PTA se klubhuis op die hoek van Lynwood- en Universiteitsweg, Pretoria. Tafels vir die snuffelmark kan by Almero, ZS6LDP, by selfoonnommer 082 908 3359 bespreek word. Persone wat die AJV wil bywoon moet asb vir Johan, ZS6JHB, kontak by 082 492 3689 vir spysenieringsdoeleindes.

HF-VOORTPLANTINGSTOESTANDE

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Met die lente in die lug is die DX-toestande ook gelukkig bietjie meer rooskleurig.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van swak 20 m-openinge na Australië vanaf 06:30. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa en 40 m kan vanaf 20:00 oopmaak. Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS-toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir verdere inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

9 September, vanmiddag, - Lente QRP Sprint;
20 September - Sluitingsdatum vir inskrywings vir Oktober RAE;
21 tot 22 September – Tweede been van die SARL BHF/UH-kompetisie;
29 September – Dames Alleen ZU-RAE-kursus deur die Kempton Park RATV;
29 September – Pretoria ARK se snuffelmark en AJV;
4 - 10 Oktober - Spesiale ruimteprogram;
5 Oktober – Neem jou handdraagstel na die werk dag;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
6 Oktober – Oosrand Amateurradioklub se vlooimark en AJV;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003